PUBLICATION:  RAPPORT ONLINE
DATE:  21 MAY 2007
19/05/2007 17:02  – (SA)
’n Konyn sonder draadwerk
Waarmee sal die rekenaar-bleeksiele nie volgende vorendag kom nie!
Die nuutste frats is ’n soort speelgoed-konyntjie wat draadloos aan jou rekenaar verbind word.
Wat op sigself effe ongewoon is, maar dis selfs meer ongewoon dat hierdie dingetjie die wêreld op hol het en soos soetkoek verkoop.
Wat mens nogal laat wonder of die wêreld nie heeltemal gek geword het nie, is dat hierdie konyn sowat R1 000 kos!
Nabaztag, soos dié skepseltjie heet, word deur die Franse maatskappy Violet gemaak en is darem nie net ’n gediertetjie van 23 cm wat met sy bek vol tande langs jou rekenaar sit nie.
Dit is nie ’n speelding of foefie nie, want hy het die potensiaal om jou lewe op ’n baie aangename manier makliker te maak.
Wat dit min of meer is (min of meer, want mens kan baie moeilik presies saamvat wat hierdie konyntjie nou eintlik veronderstel is om te wees), is ’n gevorderde, draadlose kommunikasietoestel vermom as ’n baie oulike speeldingetjie.
Dit is beslis nie iets soos daardie robot-troeteldiere wat deesdae begin kop uitsteek nie, want hierdie konyntjie het ’n bruikbaarheid wat dit eerder in die liga van ’n toestel plaas. Nie dat dit die meeste van die eienaars keer om hul Nabaztag ’n naam te gee en in dieselfde trant daaroor te praat as ’n hondjie of katjie nie!
Hy kan vir jou die weervoorspelling van die internet af lees, vir jou vertel hoe jou aandele vaar, RSS-klankvoere van die internet af trek, vir jou sê hoe laat dit is en selfs jou e-pos vir jou lees.
En asof hierdie wysneusigheid nie goed genoeg is nie, het Nabaztag nog sy eie persoonlikheid ook. Hy kan sy ore beweeg, musiek speel, praat en ’n deuntjie fluit. Sy lyfie kan in ’n hele klompie kleure verander en hy het selfs sy eie nukke.
Om die waarheid te sê, as jy iemand ken wat ook ’n Nabaztag besit, kan hulle ’n virtuele vriendskappie smee en van mekaar se karaktertrekke en streke aanleer.
Die konyn se programmatuur is oop, wat beteken jy kan hom aanpas om byna enigiets te doen wat jou hart begeer as jy ’n bie-tjie programmeringskennis het.
Tegnofoefie-slawe regoor die wêreld is dit eens dat hulle so ’n ding begeer, maar boontjieteller-ontleders het hul bedenkinge. Hulle maak dit duidelik dat hulle nie mooi verstaan presies wat die toestel kan doen nie, hulle dink nie die naam is die soort ding wat die massamark se verbeelding sal aangryp nie en hulle meen die maatskappy se webwerf, van waar die konyntjie beheer word, is ingewikkeld en deurmekaar.
Maar selfs hulle gee toe dat dit ’n haas onweerstaanbare aantrekkingskrag het, bloot omdat dit so oulik is.
Die skepseltjie se ingewande bestaan hoofsaaklik uit ’n mikroverwerkertjie, ’n draadlose verbindingskaart, ’n klankgenereerder, liggies, geheue en twee motortjies om sy ore te beweeg.
Volgens dié wat weet, is die Nabaztag se vermoëns nog net die begin. Sy vaardighede word deurgaans aangepas en in die toekoms sal hy blykbaar verkeersverslae kan ontvang, vir jou kan sê as jy ’n SMS gekry het, jou kan waarsku as jou trein laat is en selfs ’n sogenaamde “Nabcast”, ’n soort radioprogram oor die internet, aan ander Nabaztag-eienaars kan uitsaai.
Natuurlik het jy minstens ’n rekenaar met ’n goeie internet-verbinding nodig as jy vir jou een van hierdie goedjies wil aanskaf, want die Nabaztag is heeltyds aan die internet gekoppel.
En ja, jy kan vir jou een hier in Suid-Afrika koop, want hulle is nie meer net in die buiteland beskikbaar nie. Verskeie van die internetwerwe wat sogenaamde gadgets verkoop, bied hulle te koop aan.
Vir mense wat maar moeilik sluk aan die gedagte dat tegnologie vir pret en plesier gebruik kan word, is daar vandeesweek ook goeie nuus.
Die plaaslike maatskappy Integr8 FAX bied ’n nuwe gratis faks-tot-e-pos-diens aan.
Volgens Integr8 FAX is hierdie diens hul bydrae tot die oplossing van die vraagstukke rakende ’n bekostigbare, onderhoudvrye en volhoubare kommunikasie-infrastruktuur.
Die ding werk heel eenvoudig. As iemand vir jou ’n faks wil stuur en jy is ’n geregistreerde gebruiker van die diens, faks hy eenvoudig sy dokument na jou by die nommer wat aan jou toegeken word wanneer jy registreer. Die faks gaan deur na die blikbreine by Integr8 FAX, waar die papierdokument outomaties omgeskakel word na ’n TIFF-formaat en dan as e-pos na jou gestuur word.
Een van die wonderlikhede van hierdie soort diens is dat jy nie langs jou faksmasjien in jou kantoor hoef te staan om ’n faks te kry nie. Jy kan dit ontvang op enige rekenaar ter wêreld, wat die gedagte van ’n heeltemal mobiele kantoor moontliker as ooit maak.
Daar is reeds sulke dienste beskikbaar, maar wat hierdie een van Integr8 FAX anders maak, is dat dit jou niks kos as jy net fakse ontvang nie.
Hierdie diens is beskikbaar aan enigiemand met ’n e-pos-adres. Al wat jy hoef te doen om die bal aan die rol te sit om toegang tot hierdie diens te kry, is om ’n SMS aan die nommer 32542 te stuur.
dlotriet@rapport.co.za